Partiese Ryk

Partiese Ryk

247 v.C. – 224 n.C.
Ligging of Persië
Ligging of Persië
Die Partiese Ryk (groen) op sy grootste
Hoofstad Ktesifon,[1] Ekbatana, Hekatompilos, Susa, Mitradatkirt, Asaak
Taal/Tale Parties, Persies, Aramees (lingua franca),[2][3] Akkadies,[1] Grieks (amptelik)[3]
Regering Monargie
Koning
 - 247–211 v.C. Arsakes I (eerste)
 - 208–224 n.C. Artabanus V (laaste)
Historiese tydperk Mesopotamies
 - Gevestig 247 v.C.
 - Stigting 247 v.C.
 - Ontbind 224 n.C.
 - Ontbind 224 n.C.

Die Partiese Ryk of Parthiese Ryk (247 v.C. - 224 n.C., ook bekend as die Arsakidiese Ryk)[4] was ’n groot politieke en kulturele mag in Persië (antieke Iran).[5] Laasgenoemde naam is afgelei van Arsakes I van Partië,[5] wat die ryk in die middel 3de eeu v.C. gestig het toe hy die streek Partië in Noordoos-Iran verower het. Dié was toe ’n satrapie (provinsie) van die Seleukidiese Ryk wat gerebelleer het.

Mitridates I (bewind: omstreeks 171-132 v.C.) het die ryk grootliks uitgebrei deur Medië en Mesopotamië van die Seleukiede te verower. Op sy hoogtepunt het die Partiese Ryk gestrek van die noorde van die Eufraat, in wat vandag Sentraal-Oos-Turkye is, tot die hedendaagse Afganistan en Wes-Pakistan. Die ryk, wat aan die Syroete tussen die Romeinse Ryk in die Mediterreense bekken en die Han-dinastie van China geleë was, het ’n groot handelsentrum geword.

Die Parters het die kuns, argitektuur en geloof van die Perse, Grieke en streekkulture aangeneem. Vir sowat die eerste helfte van sy bestaan het die Arsakidiese hof elemente van die Griekse kultuur aangeneem, maar later was daar ’n herlewing van Irannese tradisies. Die Arsakidiese heersers het die titel "koning van konings" gehad as deel van hulle aanspraak dat hulle erfgename van die Irannese Achaemenidiese Ryk is. Namate hulle mag toegeneem het, het die magsetel geskuif van Nisa na Ktesifon aan die Tigris (suid van die hedendaagse Bagdad in Irak), hoewel ander stede ook as hoofstad gedien het.

Die Parters se vroegste vyande was die Seleukiede in die weste en die Skitiërs in die noorde. Namate Partië egter weswaarts uitgebrei het, het hulle gebots met die Armeniërs en eindelik die laat Romeinse Republiek. Rome en Partië het met mekaar meegeding om die konings van Armenië, wat tussen hulle gelê het, te onderwerp. Die Parters het die Romeine in 53 v.C. verslaan en in 40-39 v.C. het Partiese magte die hele Levant behalwe Tirus van die Romeine afgeneem. Marcus Antonius het ’n teenaanval op Partië geloods, hoewel sy suksesse oor die algemeen in sy afwesigheid behaal is onder die aanvoering van sy luitenant Ventidius. Verskeie Romeinse keisers of hul generaals het Mesopotamië ook in die volgende paar eeue binnegeval.

Gereelde burgeroorloë tussen aanspraakmakers op die Partiese troon het gevaarliker blyk te wees as buitelandse invalle. Die Partiese mag het afgeneem nadat Ardasjir I van die Sassanidiese dinastie in opstand gekom het teen die Arsakiede en hul laaste heerser, Artabanus IV, in 224 oorwin en vermoor het. Ardasjir het die Sassanidiese Ryk gestig wat oor Iran en ’n groot deel van die Nabye Ooste geheers het tot met die Moslemse verowerings van die 7de eeu n.C., hoewel die Arsakidiese dinastie in kleiner streke voortgeleef het.

Partiese bronne, wat in Parties, Grieks en ander tale geskryf was, is skaars in vergelyking met Sassanidiese en selfs vroeëre Achaemenidiese bronne. Benewens ’n paar tablette in wigskrif, fragmente van potte, rotsinskripsies, muntstukke en ’n paar perkamentrolle, is ’n groot deel van Partië se geskiedenis net bekend uit eksterne bronne. Dit is hoofsaaklik Griekse en Romeinse geskiedenisgeskrifte, maar ook geskrifte van China.[6] Partiese kunswerke word deur historici beskou as ’n geldige bron om die aspekte van die gemeenskap en kultuur te verstaan wat in teksbronne ontbreek.

  1. 1,0 1,1 Fattah, Hala Mundhir (2009). A Brief History Of Iraq. Infobase Publishing. p. 46. ISBN 978-0-8160-5767-2.
  2. Chyet, Michael L. (1997). Afsaruddin, Asma; Krotkoff, Georg; Zahniser, A. H. Mathias (reds.). Humanism, Culture, and Language in the Near East: Studies in Honor of Georg Krotkoff. Eisenbrauns. p. 284. ISBN 978-1-57506-020-0.
  3. 3,0 3,1 Green 1992, p. 45
  4. Van die Griekse Ἀρσάκης Arsakēs, van die Partiese 𐭀𐭓𐭔𐭊 Aršak
  5. 5,0 5,1 Brosius, Maria (2006), The Persians: An Introduction, Londen & New York: Routledge, ISBN 0-415-32089-5
  6. Ball 2016, p. 155

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search